WHEN LIFE HURTS
  • Home
  • When Life Hurts
  • Fees
  • ADHD Parenting
  • Services
  • About
  • Contact
Heelword gebeur die beste wanneer 'n mens jouself in 'n veilige omgewing bevind. Reik uit, soek hulp.

VAARDIG VIR DIE LEWE 2: EMPATIE

3/15/2019

0 Comments

 
Ek definieer empatie as DIE VERMOË OM IN IEMAND ANDERS SE SKOENE TE GAAN STAAN. Met ander woorde, EK IS BEREID OM DIE SAAK VANUIT JOU PERSPEKTIEF TE EVALUEER. Ek is bereid om ʼn poging aan te wend om te probeer dink HOE DIT SOU WEES AS EK JY WAS. Hoe sou ek gevoel en gedink het AS EK JY WAS?
 
Om empaties te kan leef moet ons bereid wees om ons “reg-verkeerd” denke te bevraagteken. Dit is nogal moeilik omdat baie van hierdie “reg-verkeerd” denkpatrone om ʼn onbewuste vlak lê. Dit is maar net hoe ons geleer is, daar is reg en daar is verkeerd en basta daarmee.
 
Op ʼn dag, as mens gelukkig is, kom jy egter agter dat daar ander mense is wat net so oortuig is van hulle reg en verkeerd omdat hulle van kleins af só geleer is. Vir baie eeue het Westerse mense gedink dat hulle manier van doen die enigste en beste manier is. Een storie wat by my opkom; ’n Groep goedbedoelde westerlinge het by ʼn dorpie aan die oewer van ʼn rivier iewers in Afrika aangekom met die idee dat hulle vir die mense gaan leer hoe om groete te verbou. Die inwoners van die dorpie was baie skepties en het nie met entoesiasme aan die projek deelgeneem nie. Die westerlinge het voortgegaan om die groente aan te plant en met groot entoesiasme gesien hoe die oes opkom. Toe hulle egter ʼn rukkie later, een oggend, wakker word was hulle verbaas om te sien hoe die seekoeie gedurende die nag uit die rivier gekom het en verwoesting in die lande gesaai het. Die inwoners het geweet en die westerlinge het skielik met empatie verstaan waarom die inwoners nie groete verbou het nie.
 
Ouers kan baie maal, met goeie intensies, vir hulle tieners vies raak oor ʼn sekere optrede omdat hulle dink hulle weet presies hoe dit is om ʼn tiener te wees, hulle was dan self 25-30 jaar gelede ʼn tiener. Erger nog, kleuters en jonger kinders loop soms erg deur onder die tong van ʼn ouer wat nie kan verstaan waarom die kind so ʼn vloermoer gooi nie, want wie raak nou so ontsteld oor ʼn sjokolade?
 
Wat nog te sê van werkgewers wat werknemers roskam oor dinge wat hulle doen of nie doen nie. Ek het as jong winkelbestuurder sonder enige empatie aangedring dat my werknemers op ʼn sekere tyd by die werk opdaag en het links en regs waarskuwings uitgedeel en verhore gehou om die mense in lyn te bring. Dit terwyl ek met my motor werk toe gery het en hulle almal van onbetroubare publieke vervoer afhanklik was. Vandag sou ek dit heeltemal anders hanteer het.
 
Hiermee wil ek geensins impliseer dat ons geen grense moet hê nie. Ek glo egter met my hele hart dat indien ons kan leer om empaties met mekaar om te gaan ons verder kan kom met ons persoonlike verhoudings en ʼn vreedsamer bestaan kan voer. DAAR SAL MEER RUIMTE VIR GESPREK WEES INDIEN ONS KAN LEER OM REGTIG TE LUISTER EN ONSSELF IN DIE ANDER PERSOON SE SKOENE TE PLAAS. Om my tiener aan te moedig om vir my te vertel hoe moeilik dit is om ʼn tiener te wees in ʼn tegnologiese era waar alles wat ʼn mens doen op film, oftewel selfoon, vasgelê word. Kan ek regtig in haar skoene staan wanneer sy ʼn “bad hair day” het en vrees dat iemand van haar ʼn foto gaan neem en op “instagram” gaan post sodat die hele skool daarop kommentaar kan lewer? Hoe sou ek gereageer het indien dit my realiteit was? Watter emosies sou my geteister het?
 
Soms sal ons van mekaar verskil, soos die twee karakters in die prentjie hier onder,  dan is dit dalk nodig om ooreen te kom om dinge verskillend te sien en dat daar twee moontlike “regte” antwoorde kan wees.
 
Soms is dit nodig om weg te stap wanneer ons regtig nie daarin kan slaag om mekaar se standpunte met respek te hanteer nie, maar wanneer ek wegstap hoop ek dat ek kan wegstap met genoeg respek vir die ander dat dit nie soos die toneel van ʼn veldslag lyk nie.

​#whenlifehurts #counseling #coaching #vaardigvirdielewe
Picture
0 Comments



Leave a Reply.

    Author

    I am a Grief Counselor & Self-care coach.  
    My practice is based in Fish Hoek, Kommetjie area in the Southern Peninsula. I see myself as part of the "caring tribe". People are my passion and I love working with people who value maintaining positive, respectful, loving relationships within boundaries of safety.

    RSS Feed

    RSS Feed

Powered by Create your own unique website with customizable templates.
  • Home
  • When Life Hurts
  • Fees
  • ADHD Parenting
  • Services
  • About
  • Contact