WHEN LIFE HURTS
  • Home
  • When Life Hurts
  • Fees
  • ADHD Parenting
  • Services
  • About
  • Contact
Heelword gebeur die beste wanneer 'n mens jouself in 'n veilige omgewing bevind. Reik uit, soek hulp.

VAARDIG VIR DIE LEWE 5: SPAN JOU SINTUIE IN TEEN ANGSTIGHEID

3/15/2019

0 Comments

 
​ANGSTIGHEID IS VIR MEESTE WESTERSE MENSE ‘N GEREELDE METGESEL. Kom ek verduidelik gou hoekom.
 
Wanneer ‘n mens trauma/gevaar beleef het jou liggaam ‘n outomatiese respons wat jou ín die oomblik help om te “oorleef”. Hierdie oorlewings-respons kan ook by diere waargeneem word.
 
Die liggaam kies gewoonlik een van drie reaksies. Veg, vlug of vries. Dit gebeur heeltemal outomaties, en onbewustelik. Dit is nie asof jy eers oor die saak hoef te dink wanneer jy iets waarneem wat jou “bedreig” nie. Ek plaas bedreig in aanhalingstekens omdat dit nie altyd regtig lewensbedreigend is nie, maar bloot vanuit jou persepsie van wat gevaarlik is. Bv. wanneer ʼn muis oor die vloer hardloop of jy ʼn spinnekop in die stort gewaar, of die vrees dat jy ʼn toets gaan dop of dat jou finansies nie gaan uitwerk aan die einde van die maand nie. Vir tieners kan dit selfs iets wees soos die vrees dat hulle nie genoeg “likes” op sosiale media kry nie, wat by implikasie vir hulle beteken dat hulle nie gewild is nie.
 
Natuurlik is daar ook werklike bedreigings en dan reageer die liggaam dieselfde. Dit is dan wanneer mense dit regkry om oor hoë mure te spring wanneer ʼn gevaarlike hond hulle jaag of wanneer ʼn mens iets optel of skuif wat jy nie onder normale omstandighede beweeg kan kry nie. Wanneer ons in hierdie veg, vlug of vries toestand is verstadig die liggaam sekere “minder belangrike” funksies soos spysvertering, sodat al die energiebronne na die spiere kan gaan om te doen wat dit moet doen om uit die gevaar te kom.
 
Ek dink ons kan almal saamstem dat hierdie outomatiese reaksie van die liggaam baie handig en soms lewensnoodsaaklik is. Dit is egter belangrik dat die liggaam daarin moet slaag om na afloop van die situasie weer na normaal terug te keer. Wanneer ons liggaam egter vir een of ander rede (gewoonlik trauma of konstante stres) vashaak in ʼn “opgewekte” (aroused) toestand maak dit ons siek en kan ons aan angstigheid begin ly.
 
DUS moet ons TEGNIEKE AANLEER om ons uit hierdie “opgewekte” toestand uit te kry. Vir ons wat onder konstante “stres” lewe as gevolg van die eise van ons bestaan is dit REGTIG BAIE BELANGRIK om gereelde oomblikke te skep waar ons, ons senuweestelsel na ʼn staat van rus terugbring.
 
DIT IS SO EENVOUDIG SOOS OM TE ONTHOU OM JOU SINTUIE TE GEBRUIK.
 
Dit werk as volg en kan op enige plek, selfs in die supermark ry, gedoen word.
 
1. Sit of staan gemaklik en RAAK BEWUS VAN DIE PLEK WAAR JOU LIGGAAM KONTAK MAAK MET DIE AARDE; jou voete op die grond, jou boude op die stoel. Fokus vir ʼn oomblik of twee op hierdie kontakpunte.
 
2. BEGIN NOU OM JOU RONDKYK met die doel om detail waar te neem. Kyk vir spesifieke kleure, vorms, wat sien jy in jou omgewing raak. Moet nie net jou oë beweeg nie, beweeg jou nek stadig sodat jy alles in jou onmiddellike omgewing raaksien.
 
3. Probeer nou GELYKTYDIG FOKUS op jou liggaam se kontakpunt met die stoel of aarde en dit wat jy rondom jouself sien.
 
4. NEEM KENNIS VAN JOU ASEMHALING, haal jy nog lekker gemaklik asem of haal jy vlak asem, het jy dalk onbewustelik jou asem opgehou?
 
5. SIT NOU JOU GEHOORSINTUIG BY, wat hoor jy? Wat hoor jy naby aan jouself en wat hoor jy in die agtergrond of iewers daar ver? ONTHOU OM GELYKTYDIG TE FOKUS op jou liggaam se kontakpunt en dit wat jy om jou sien.
 
6. SIT NOU JOU REUKSINTUIG BY, wat ruik jy. ONTHOU OM GELYKTYDIG TE FOKUS om aan te hou asemhaal, jou kontakpunt met die aarde te voel, in te neem wat jou oë sien en wat jy hoor.
 
Ek dink jy kry die idee…
 
Die doel van hierdie oefening is om jou, vir ʼn oomblik, uit jou “al in die rondte dink” gedagtepatrone te neem en jou “terug te bring” na die hier en die nou.
 
Probeer dit gerus gereeld deur die dag. Maak ʼn punt daarvan om dit so dikwels as moontlik iewers in die natuur te doen.
 
Laat weet gerus vir my indien hierdie tegniek vir jou van waarde is.
 
#whenlifehurts #asdielewedruk #coaching #counseling #vaardigvirdielewe
Picture
0 Comments



Leave a Reply.

    Author

    I am a Grief Counselor & Self-care coach.  
    My practice is based in Fish Hoek, Kommetjie area in the Southern Peninsula. I see myself as part of the "caring tribe". People are my passion and I love working with people who value maintaining positive, respectful, loving relationships within boundaries of safety.

    RSS Feed

    RSS Feed

Powered by Create your own unique website with customizable templates.
  • Home
  • When Life Hurts
  • Fees
  • ADHD Parenting
  • Services
  • About
  • Contact