Vir die een of ander rede, waarskynlik omdat emosie mense ongemaklik maak, is ons geleer om so gou as moontlik na trauma op te hou om emosie te wys. Hierdie manier van doen het ʼn breinpaadjie (gewoonte) geword wat glad nie handige gevolge het nie.
Dit lê waarskynlik in ʼn kultuur van “sterk wees” van “opstaan en aangaan” of dalk het dit saam met “kaalvoet oor die Drakensberge” deel van ons genetika geword. MAAR wanneer ons trauma* ervaar, daag Vrees op om ons deur hierdie proses te help, om ons skerp en oplettend te maak, sodat ons met vernuftigheid kan dink en doen. Wanneer die gevaar verby is, en jy buite onmiddellike gevaar is, sal Vrees bietjie terugstaan en jou kans gee om jouself te kalmeer. Dit is die oomblik wat ons die liggaam se natuurlike meganismes soos bewe en skud om van die oormaat adrenalien ontslae te raak moet aangryp. Dit is ook die tyd om die situasie in jou gedagtes te “hersien”. Dit is waarom dit goed is om die storie oor en oor te vertel. Dit is sodat jou “onthou” nie agterna stertjies kan aanlas nie. Veral omdat ons geneig is om stertjies aan te las wat ons nie vorentoe help nie. Soos: “Ek moes eerder dit of dat gedoen het.” of “as ek liewer...” Self-kastyding is die laaste ding wat ʼn mens na trauma nodig het. Dit is nou waar die “Ek is ok...” ding inkom, want meeste van ons het nie geleer om ordentlik te huil en te bewe en te skree en te skel nie. So ons maak asof “niks” gebeur het nie. Dit is BAIE NADELIG, want ons het nodig om op ʼn liggaamlike vlak van die oormaat energie ontslae te raak EN ons het nodig om op ʼn kognitiewe vlak ons eentjies in ʼn ry te kry. Hierdie “terugkyk” (flashbacks) is jou psige se poging om jou te help om data bymekaar te maak vir toekomstige gebruik. Dit probeer jou help om jou eie sterk- en swakpunte in die gegewe situasie te kan raaksien sodat jy meer vaardig kan wees in ʼn volgende situasie. (Ongelukkig sien ons baie maal net die “swakpunte” raak.) Die “Ek is OK.” narratief verhoed ons soms om hierdie nabetragting ordentlik te doen, want ons is bang dat as ons nie vinnig “OK” is nie, ons nooit weer “OK” gaan wees nie. So, dan blok/vermy ons hierdie “na-vrees” werk met “self-talk” soos: “Jy het oorleef, so daar is niks om meer voor bang te wees nie.” of “Jy behoort dankbaar te wees dat jy leef, hou op om vir jouself jammer te voel.” of “Skud jouself reg.” MAAR, Vrees hou nie daarvan om in ʼn blik gedruk te word nie. Wanneer Vrees “geblik” word, peul hy/sy by die kante uit as angstigheid (anxiousness) en aanhoudende “alertness”. Jy kan begin om in ʼn konstante toestand van angs en paraatheid te verkeer, jou adrenalien sal oortyd begin werk en jy kan vind dat jy vir enige ding skrik, sukkel om te slaap en dat jou eetpatroon versteurd raak. Dit kan oorgaan tot ʼn toestand van gereelde “flashbacks”, nagmerries, emosionele plofbaarheid en ʼn algemene gevoel van disoriëntasie. Indien bg. vir jou bekend klink wil ek aanbeveel dat jy ʼn professionele persoon se hulp vra. Dit is moontlik om aan te beweeg na trauma, maar dit is ʼn proses en elkeen van ons verdien om hierdie pas saam met ʼn kundige, empatiese en “compassionate” persoon te stap. Stuur gerus vir my ʼn epos na grobler.karin@gmail.com, ek doen aanlyn en spreekkamer konsultasies. *’n Mens ervaar trauma wanneer ʼn insident jou geïsoleerd en alleen laat voel en wanneer jy ervaar dat jy nie in beheer van die situasie is nie. Daarom word almal nie noodwendig deur dieselfde situasies getraumatiseer nie.
0 Comments
Leave a Reply. |
AuthorI am a Grief Counselor & Self-care coach. |